Tuesday, July 1, 2008

'n Storie - vir diegene wat die lewe beter wil verstaan...



Eens op 'n tyd was daar 'n ou man wat in 'n klein dorpie gewoon het. Hoewel hy arm was, het almal hom beny, want hy het 'n pragtige wit perd gehad. Selfs die koning het sy perd begeer. Dit was die mooiste, statigste, sterkste perd wat iemand nog ooit gesien het.

Mense het hom groot somme geld aangebied vir die perd, maar die ou man het dit altyd van die hand gewys. “Hierdie perd is nie vir my 'n perd nie,” het hy vir hulle gesê. “Hy’s 'n persoon. Hoe kan 'n mens 'n persoon verkoop? Hy is 'n vriend, nie 'n besitting nie. Hoe kan 'n mens 'n vriend verkoop?” Die ou man was arm en die versoeking groot, maar hy het nooit die perd verkoop nie.

Toe ontdek hy een oggend dat die perd nie in die stal was nie. Die hele dorp het hom kom besoek. “Jou ou dwaas,” het hulle hom berispe, “ons het jou gesê iemand gaan nog jou perd kom steel. Ons het jou gewaarsku dat jy beroof gaan word. Jy is so arm, hoe het jy ooit gedink jy kan 'n waardevolle dier beskerm? Dit sou beter gewees het as jy hom verkoop het. Jy kon enige prys gekry het; niks sou te hoog gewees het nie. Nou is jou perd weg; die ongeluk het jou gery, jy is vervloek.”

Die ou man het geantwoord: “Moenie te gou praat nie. Al wat julle moet sê, is dat die perd nie in die stal is nie. Dis al wat ons weet, die res is oordeel. Hoe kan julle weet of ek vervloek is of nie? Hoe kan julle oordeel?”
Die mense het gestry. “Moenie sê ons is dwaas nie! Ons is dalk nie filosowe nie, maar filosofie is nie nodig nie. Die eenvoudige waarheid dat jou perd weg is, is 'n vloek.”

Die ou man het weer gepraat: “Al wat ek weet, is dat die stal leeg is en die perd weg. Die res weet ek nie. Of dit 'n vloek of 'n seën is, weet ek nie. Ons sien net ten dele. Wie kan sê wat volgende gaan gebeur?”

Die dorpsmense het gelag. Hulle het gedink die ou man is mal. Hulle het nog altyd gedink hy is 'n dwaas, want as hy nie was nie, sou hy die perd verkoop en van die geld gelewe het. In plaas daarvan was hy 'n arm houtkapper; 'n ou man wat hout kap, dit uit die bos sleep en verkoop vir vuurmaakhout. Hy het van die hand na die mond geleef in ellendige armoede. Nou het hy boonop bewys dat hy inderdaad 'n dwaas is.

Na vyftien dae het die perd teruggekom. Hy was toe nooit gesteel nie; hy het in die bos in gehardloop. En hy het nie net teruggekom nie, hy het boonop twaalf wilde perde met hom saamgebring. Weer het die dorpsmense om die houtkapper saamgedrom en gepraat. “Ou man, jy was reg en ons was verkeerd. Dit wat ons gedink het 'n vloek was, was 'n seën. Vergewe ons asseblief.”

Die ou man het geantwoord: “Weer gaan julle te ver. Al wat julle moet sê, is dat die perd terug is, en dat daar twaalf perde saam met hom gekom het. Maar moenie oordeel nie. Hoe weet julle of dit 'n seën is of nie? Julle sien net ten dele. Hoe kan julle oordeel tensy julle die hele verhaal ken? Julle lees maar net een bladsy van die boek. Kan julle die hele boek oordeel? Julle lees maar net 'n woord van 'n frase. Kan julle die hele frase verstaan?”

“Die lewe is onmeetlik uitgestrek, en tog oordeel julle die hele lewe op grond van een bladsy of een wooord. Niemand weet nie. Ek is tevrede met wat ek weet; ek is nie gepla met wat ek nie weet nie.”

“Dalk is die ou man reg,” het die mense vir mekaar gesê en stilgebly, maar innerlik tog geweet hy is verkeerd. Hulle het geweet dis 'n seën. Twaalf wilde perde het saam met sy perd teruggekom. Met bietjie moeite kon hulle ingebreek en getem word sodat hy hulle vir groot somme geld kon verkoop.

Die ou man het 'n seun gehad, 'n enigste seun. Die jongman het die wilde perde begin inbreek en na 'n paar dae van een afgeval en albei sy bene gebreek. Weer het die dorpsmense om die ou man kom staan en hulle oordeel uitgespreek.
“Jy was reg,” het hulle gesê. “Jy het bewys jy was reg. Die twaalf perde was nie 'n seën nie, maar 'n vloek. Jou enigste seun het albei sy bene gebreek en nou het jy op jou oudag niemand om jou te help nie. Jy is nou armer as ooit.”

Die ou man het weer gepraat: “Julle mense het 'n obsessie met oordeel. Moenie so ver gaan nie. Sê net my seun het sy bene gebreek. Wie weet of dit 'n seën of 'n vloek is? Niemand nie. Ons het net 'n fragment. Die lewe kom in fragmente.”

Dit gebeur toe so dat die land 'n paar weke later in 'n oorlog betrokke raak teen 'n naburige land. Al die jongmans van die dorp is opgeroep, net die seun van die ou man is oorgesien omdat sy bene gebreek is. Hierdie keer het die mense om die ou man kom staan en huil en skreeu omdat hulle seuns van hulle weggeneem is, met net 'n skraal kans dat hulle ooit weer sou terugkeer. Die vyand was gedug en die oorlog sou 'n verlore stryd wees. Hulle sou hulle seuns nooit weer sien nie.
“Jy was reg, ou man,” het hulle gehuil. “God weet, jy was reg. Hierdie is nou die bewys. Jou seun se ongeluk was 'n seën. Sy bene is dalk gebreek, maar hy is ten minste by jou. Ons seuns is vir altyd weg.”

Die ou man het weer gepraat: “Dis onmoontlik om met julle te praat. Julle maak gevolgtrekkings. Niemand weet nie. Al wat julle moet sê, is dat julle seuns oorlog toe is en myne nie. Niemand weet of dit 'n seën of 'n vloek is nie. Niemand is wys genoeg om te weet nie. Net God weet.”



Die ou man was reg. Ons het net 'n fragment. Die lewe se ongevalle en teenspoed is maar net 'n bladsy uit 'n groot boek. Ons moenie haastig wees om gevolgtrekkings te maak nie. Ons moet ons daarvan weerhou om die lewenstorms te oordeel omdat ons nie die hele verhaal ken nie.

No comments: